Saturday, November 19, 2016

Afrikaans se Groot Geheim ... Pops Mohamed & Coenie de Villiers

Dit is darem so 'n besonderse voorreg om na die nuwe liedjie, Naledi - wat ster beteken in Afrikaans - op die nuwe Emoji album van Coenie de Villiers te luister. Soveel te meer omdat een van die grootste ikone in Afrikaans hier eg Suid-Afrikaanse klanke optower saam met Pops Mohamed en oom !Gubi Tietie van die Kalahari.


In die Afrikaanse leefwereld is baie min mense egter daarvan bewus dat Pops reeds twee toekennings vir sy lewenslange bydrae tot musiek ontvang het. Nog minder mense weet dat Pops se huistaal eintlik Afrikaans is. Ja, hy het groot geword in Benoni en Reygerpark aan die ooste van Johannesburg. 'n Musiek ikoon in eie reg ... nederig, maar 'n iemand wat lief is vir sy mense, sy taal en deur sy hele lewe lank sy musiek die praatwerk laat doen.

Coenie is bekend daarvoor dat hy die grense skuif in Afrikaanse musiek en met die luister na sy nuwe cd vat hierdie grootsheid jou aan die hart. Dit is nie aldag wat ons die geleentheid kry om hierdie besonderse uniekheid en kombinasie op een verhoog kan sien en hoor nie.



Op die 25ste November 2016 het jy die kans om daai magic te ervaar wat gebeur as van ons land se grootste en beste kunstenaars hul talente in een pot gooi en towerklanke gaan voortbring wat jou vir altyd sal bybly. Kom daag so bietjie jou sintuie uit met iets unieks, vars en nuuts! 

Ons hier in Afrika kan oor daai grense wat ons verdeel mekaar aan die skouer vat en die positiewe Kreet van Afrika se mense laat weergalm met die klavier, die kora, die siter, die tabla, die viool ... en die dromme van Afrika kan visioene opwek van 'n land en sy mense wat genoeg gehad het van verdeeldheid, korrupsie en die algemene politieke nonsens wat ons daaglikse lewens ontsier. Ons wil en kan vorentoe kyk en 'n toekoms bou waarop ons almal kan trots wees!

Meesterlike vertolkings deur SAMA wenner Somerfaan en sy band, woord-en-sang kunstenaar Luna Paige en Deca met 'n sexy viool en gitaar gaan defnitief jou aand opkikker. Uit Noord Afrika is daar Sankobo Afrique, Artspoken uit Soshanguve en Vangi Gantsho met haar uitdagende deurlopende woordspel wat tot diep in jou siel gaan praat. Het iemand reeds genoem dat ons land se beste tabla-speler, Ashish Joshi en die pragtige siter speler, Poorvhi Bhana jou na jou asem gaan laat snak met hul talent?

Bring sommer 'n paar van jou vriende saam en gaan eet eers lekker uit by een van die vele restaurante by Lynnwood Bridge. Die Atterbury Teater wag vir jou Vrydagaand! 


Boek daai kaartjie sommer nou! Net hier.


Kom luister gerus saam na 'n onderhoud Donderdagmiddag op die iStart2 Show, op Radio Today, wanneer Pops en Coenie saam gesels oor hul samewerking en ons meer vertel oor die Kreet van Afrika vertoning Vrydagaand by die Atterbury Teater.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.